Hasie en Klasie klink ‘n glasie
en praat oor hul lekker dag
van muisies paai en stokkiesdraai
en hoe hul wortels jag.
Maar dan gebeur ‘n vreeslike ding
en Hasie-hoogmoed skrik en hy spring
as die skoot hier langs hom klap,
want iemand het vir Klasie geskiet
en hy’t net daar dood-omgekap.
Hasie kyk eers links en dan regs
en bespied die hele vallei
en dan spits hy sy ore en neus en stert
en maak dat hy vinnig sy ry kry,
Want bang vir die dood is Hasie, doodbang
en hy het lankal geweet
dat hy hom nie sommer so sal laat vang;
vir die dood is hy altyd gereed.
Eers worstel hy met wroeggevoelens
omdat hy Klasie moes agterlaat,
maar namate die tyd verbysleep
begin hy vergeet van sy maat.
Nou is Hasie oud en alleen
en dink hy weereens terug
aan die dag toe dit net skote wou reën
en hy voel weer effe verlig,
want na Klasie se dood het dinge verander
en hy’t sy streke laat staan.
Hy’t vir Konyntjie getrou, daar by die Koljander
onder die sneeu-wit maan.
Daar was kinders en kinders en kinders en kinders,
maar steeds kon hy net nie vergeet
van die dae van sy jeug saam met Klasie, sy pel
en dat iemand vir Klasie wou eet.
Tot eendag toe hy graag daardie dae wou herleef
en hy weereens ‘n glasie wou skink,
maar toe loop dinge sowaar ‘n tweede keer skeef
en in die dam het Konyntjie verdrink.
Daarna kon ou Hasie net nooit weer herstel.
Ja, hy’s nou van sy sinne beroof.
Hy verbeel hom hy “brekfis” saam met Klasie, sy pel
en aan Konyntjie is hy steeds verloof.
So gaan die dae om, sy hare word wit,
want die ouderdom haal hom nou in.
Al wat ou Hasie wil doen is net sit
en tob oor die heel begin:
toe hy jonk was, en fiks, en gesond en gelukkig
toe die lewe nog voor hom uitstrek
en hy dink weer aan Klasie, Konyntjie, Katryntjie
en besef die hele lot het al gevrek.
Sodat net hy wat Mal-Hasie-Hoogmoed is
oor is van die hele spul
en sy hart maak weer draaie, soos al die ou paaie
waarlangs hy die dood kon verkul.
Maar ou Hasie het altyd geweet die dag kom
wat die dood hom opeens sal inhaal,
‘n dag wanneer hy nie so gelukkig sal wees
Om onder die kap van die sekel uit te nael.
En net toe dit hom tref dat hy almal oorleef het
oor jare en jare heen
toe hoor hy die veerligte voetstappe van verdriet
en die geween van die ou slypsteen.
Hy spring op en nael soos hy altyd maar maak,
maar die dood het hom ingewag
en so het dit gebeur dat die son eindelik gesak het
oor Hasie se laaste dag.
By die begrafnis het al die diere vergader,
maar meeste was nie daar vir hóm.
Om te sien of dit waar is oor Hasie se einde,
het almal maar daarheen gekom.
Net Klein-Hasie-Wipstert van Kort-Haas was oor
uit die Hoogmoed familielyn,
maar raai nou wie onmoet daar vir Klein-Hasie?
Waaragtig dis Klasie-Konyn!
En so is dit dat die noodlot toe weer
van voor af die lot bepaal
vir nog ‘n Hasie en nog ‘n Klasie
om ‘n leeftyd se skuld te betaal.