Sagte, gloeiende lig het haar omvou
Haar hare goud gekleur
Haar vel wasig gewas
Daardie eerste keer.
Sy was ‘n engel
In ‘n engel-kleed
Om haar kon ek my gedagtes eindeloos verstrengel
Haar intensief ontleed:
Haar oë was die blou saffier
wat ek haar nooit sou kon bied
Haar spierwit rok was pure swier,
Haar stem ‘n tower-lied
Haar sagte glimlag het opeens
die werklikheid herroep
toe sy my groet
waar ek versteen gestaan het op haar stoep.
Die raaiselagtige uitdrukking in haar oë
het my hart beklem,
ek het teruggerem,
gehoop sy sien nie die skeur in my baadjie-mou nie,
gebid sy weet nie alreeds sy kan my nie vertrou nie,
gedroom ek was anders.
Of kon sy vir my kyk en sien wat nie is nie,
wat ek het en nie het nie en wat ek sal wees?
Maar in haar oë kon ek niks anders lees
as die dinge wat my wêreld verbyster,
wat my argeloos seermaak en teister:
verwarring en hartseer en vrees.